Akademia Nuusbrief

AKADEMIA NUUSBRIEF

BRIEF VAN DIE AKADEMIESE HOOF.

Bestaande universiteite dwarsoor die Westerse wêreld is vandag dikwels in die greep van polities korrekte ideologieë. In ʼn ouerige artikel oor polities korrekte handeling aan enkele universiteite in die VSA gee Craig B. Anderson (1993) onder meer die volgende voorbeelde hiervan. ʼn Groep studente by Brown Universiteit het die afbeelding van ʼn man wat tydens ʼn siësta onder ʼn groot Meksikaanse hoed slaap op ʼn partytjieuitnodiging geplaas. Nadat ʼn student gekla het dat die uitnodiging onsensitief jeens Meksikane is, het die raad alle partytjies met ʼn etniese tema verbied.

Daar is nog vele voorbeelde van oordrewe, eintlik onsinnige, politiese korrektheid waarna Anderson verwys. Alle aanduidinge is dat die aandrang op politieke korrektheid intussen verhewig het. Verskeie studente en dosente loop daaronder deur, en voel steeds minder spontaan tot hul universiteite verbind.

Nou, hoe moet hierop geantwoord word? ʼn Vanselfsprekende antwoord is om op die belangrikheid van die reg op vrye meningsuiting te wys. En daarin is gewis ʼn bepaalde waarheid opgesluit. Die bedoeling hieronder is daarom ook nie om dié reg te betwis nie.

Nogtans lê die sleutel tot ʼn oplossing van die probleem nie in die blote beroep op die kultuur van regte opgesluit nie. Die oplossing moet eerder in ʼn egte gemeenskapsuniversiteit gesoek word. Dit wil sê ʼn universiteit wat lewensbeskoulik deur ʼn grondliggende samehang, ʼn ooreenstemmende tradisie, en selfs soortgelyke gebruike, gekenmerk word. Hedendaagse universiteite wat deur polities korrekte ideologieë geregeer word, word nie deur so ʼn samehang gekenmerk nie. Die gevolg is intense vorme van versplintering onder hul studente en dosente, eerder as wyses waarop gemeenskap onderling gestig en uitgebou word.
 
Groete
Prof. Danie Goosen

Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005

Fisiese adres
Von WIllichlaan, 284
Centurion