BSV-Skryfwedstryd 2019

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se Nasionale BSV-Skryfwedstryd 2019 met R18000-prysgeld geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat begin nou in die laaste pylvak inbeweeg en ons sal dankbaar wees as u dalk dekking daaraan sal gee vir diegene wat nog graag wil inskryf - so ongeveer 'n maand oor voor die sluitingsdatum op 13 Mei 2019!!

Nasionale BSV-Skryfwedstryd 2019 van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging:

R18 000-prysgeld geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV en ’n slypskool by bekroonde en veelvertaalde oud-misdaadjoernalis en  spanningskrywer, Karen Brynard, op die spel!

Digters  en skrywers in die hoërskool (gr. 8 – 12), studente en volwasse skrywers, insluitende niemoedertaalskrywers van Afrikaans, het nog ongeveer ’n maand oor om in te skryf vir die bekende Nasionale BSV-skryfwedstryd van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) wat die 13de Mei 2019 sluit.

          Die wedstryd bestaan reeds sedert 1979 en word aangebied in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), wat die inskrywings ontvang. Die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat tree vanjaar vir die tiende agtereenvolgende jaar as borg van die skryfwedstryd op omdat die ontdekking van veral jong talent vir beide die BSV en die UV na-aan die hart lê. Vier gesoute onafhanklike beoordelaars, self bekroonde skrywers en akademici, identifiseer jaarliks meesterlik onontdekte skryftalent.

 

          Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging en dosent verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, lewer die wedstryd jaarliks nuwe, onontdekte skrywerstemme op wat kort voor lank debuteer, soos 2017 se Ingrid Jonkerpryswenner, Hilda A. Smits wat haar bundel uit Amerika by die BSV in NALN, Bloemfontein kom bekendstel het en daarna vereer is met ’n nasionale letterkundeprys. Binnekort debuteer Hannes Visser, gereelde BSV-Slypskoolgabger en BSV-wenner en redakteur van Courant in Oudtshoorn ook en ook hy kom in Mei sy bundel by die BSV in NALN bekendstel. (Vroeëre BSV-wenners sluit bekende skrywer in, soos Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, Carina Diedericks-Hugo, Carina Stander, Piet Steyn, Sonja Loots, om maar enkele van die welbekende skrywers wat die BSV-wedstryd as wegspringplek gebruik het, te noem.)

          Veral skoolgroepe en tersiêre studente word aangemoedig om in groot getalle deel te neem aan hierdie tradisieryke skryfwedstryd met ’n heerlike verskeidenheid onderwerpe vir elke smaak. Ook vir niemoedertaaldeelnemers van Afrikaans is daar aanmoedigingspryse op die spel, asook die moontlikheid van beurse om die slypskool gratis by te woon.  Buiten vir kontantpryse en die publikasie van weninskrywings in Inkvars, word al die wenners van al die kategorieë genooi om gratis die jaarlikse Nasionale BSV-slypskool vir Ontluikende Skrywers, wat ook deur die publiek bygewoon kan word, op 24 Augustus 2019 by die dinamiese bekroonde en veelvertaalde oud-misdaadjoernalis en spanningskrywer, Karen Brynard, by te woon.

Genres waaraan deelgeneem kan word, is ’n kortverhaal, kortkortverhaal, skets/vertelling, essay en ’n gedig. Buiten vir prysgeld, trofeë en sertifikate, word die weninskrywings jaarliks in die publikasie, Inkvars (Redakteur: Corlietha Swart) gepubliseer – ’n publikasie wat deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen, Nederland/ Zuid-Afrika befonds word en met groot vrug deur stelwerkonderwysers in stelwerkklasse gebruik kan word, omdat selfs die beoordelaarsverslae van die vier gerekende BSV-beoordelaars in die publikasie opgeneem word.

BSV-kryfwedstrydreëls en inskrywingsvorms kan self elektronies afgelaai word by http://bloemsv.wordpress.com onder Skryfwedstryd 2019, of u kan die BSV-sekretaresse, mej. Roline Brits, kontak by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ons hou die pos dop vir u inskrywings!