Jaarverslag 2020/21

VERKORTE JAARVERSLAG VAN DIE BAK-BESTUUR:  2020/21-termyn:

 Die voorsitter, dr. Chris Verwoerd, het die BAK-Jaarverslag tydens die Jaarvergadering van 16 November 2021, met spesifieke verwysing na die volgende gelewer:

 1)    Vergaderings van die Bestuur:   Gedurende die jaar is vier kwartaalikse Bestuursvergaderings gehou. Die eerste vergadering het  op 30 Maart 2021 – steeds onder streng Covid-19- inperkingsmaatreëls – plaasgevind, en daar is uit die staanspoor klem gelê op reëlings vir die jaarlikse Eretoekenningsfunksie wat vir 7 Oktober 2021 by die amfiteater van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke beplan is.

2)    Jaarlikse Eretoekenningsfunksie:  Die funksie, wat weens die grendeltyd in 2020 afgestel is,  het wel by die Oorlogsmuseum plaasgevind, maar is inderhaas teen 17:30 op 7 Oktober 2021 weens ‘n hewige donderstorm na die ouditorium van die Museum verskuif. 

 Toekennings is gemaak aan die volgende prominente persone in Bloemfontein wat uitsonderlike diens aan die Afrikanerkultuur gelewer het:

                                     Jaco Jacobs:                               Skrywer van jeugverhale

Fanie Viljoen;                            Skrywer van jeugverhale

Arnold Van Dyk:                       Kenner van die Anglo-Boereoorlog

Rina-Maria Schepers;             Afrikaanse Drama- en Toneel

Brandkop-Voortrekkers het ‘n toekenning ontvang vir die aktiefste lidorganisasie in 2021.

Die gasspreker by die geleentheid was dr. Arnold Van Dyk. Sy tema was Die Verskroeide Aarde-beleid tydens die Anglo-Boereoorlog.

3)        Finansiële sake: Die tjekrekening by Investec deur PSG funksioneer goed, en die finansiële stand van die BAK sal in die finansiële verslag behandel word.

 4)        Ledegeld 2021:  Die Bestuur het besluit om by die JV aan te beveel dat die jaarlikse ledegeld in die lig van die Covid-19-ontwrigting nie verhoog word nie.  Die aanwending van die finansiële oorskot van 2021 word na die nuwe Bestuur verwys.

5) Ander sake waaraan aandag gegee is:                                                                                   

Verskuiwing van Pres. Steyn se standbeeld:  Die appèl teen die verskuiwing het nie geslaag nie, en die standbeeld is by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke opgerig.                                                           

Afrikaanse Monumente in en om Bloemfontein:  Op inisiatief van dr. Badenhorst, en in die lig van aanslae teen Afrikaner-monumente,  is begin om op ons webwerf ‘n lys op te stel met besonderhede van alle gedenktekens en monumente in die Bloemfontein-omgewing. Alhoewel verskeie publikasies oor erfenisse beskikbaar is, wil ons graag klem lê op erfenisse rondom ons, en aan die publiek bekendstel. Sommige lede-organisasie het reeds op ons oproep gereageer, maar ons versoek meer besonderhede en veral foto’s wat op die webwerf geplaas kan word.               

6)        Ledegroei:  Pogings is aangewend om met lidorganisasies wat nie meer aktief is nie, en nie ledegeld betaal nie, te skakel. Enkele nuwe lede is gewerf, en ander het nie reageer nie. Die Bestuur sal graag verneem van nog moontlike organisasies wat gewerf kan word.

 7)        Bestuursamestelling vir 2020 - 2021:                                                                                       

Die Bestuur vir die tydperk November 2020 tot November 2021 was as volg saamgestel:              

Voorsitter:                        Dr. Chris Verwoerd                                                        

Ondervoorsitter:              Mnr. Willie Engelbrecht                                                

Sekretaris:                         Prof. Barry Frey                                               

Penningmeester:             Mev. Karn Botha                                             

Addisionele lede:            Mev. Marda Oosthuysen

 Dr. Verwoerd meld dat dit vir hom ‘n voorreg was om tydens hierdie moeilike jaar as voorsitter te kon dien met so ‘n gewillige, bekwame en toegewyde Bestuur.  Hy noem dat die sekretaris verdien om uitgesonder te word vir sy volgehoue en getroue hantering van ons sake, selfs in hierdie besondere termyn.

 Hy spreek laastens ook sy dank uit aan ons Hemelse Vader vir bewaring en guns aan elkeen van ons, en dat ons bid vir verligting in die nuwe jaar.