Netwerk in Namibië

Netwerk is ʼn onafhanklike, nie-politiese, vrywillige, Christelike Afrikaanse organisasie.Ons strewe is om verskillende organisasies, instansies en individue wat hulle beywer vir die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur, met mekaar te laat ‘netwerk’.

Ons bereik ons doel deurdat ons:

• Netwerke tussen relevante organisasies en mense skep;

• Inklusief met almal saamwerk en assosieer;

• Nie voorskriftelik is oor wat ander doen nie, maar saam werk en gesels;

• Die optimale benutting van bronne fasiliteer;

• Samewerking verkry deur waarde toe te voeg en diens te lewer;

• Aksies skep en lewer waar daar gapings is;

• Aksies en gesprekke inisieer, stimuleer en versnel.

Netwerk het in Mei 2019 begin met sake-etes op die laaste Vrydag van elke maand.Dit het reeds gelei tot baie suksesvolle netwerk-geleenthede vir Afrikaanse besighede in Windhoek. Teen ʼn klein bedrag kan jy die ete gedeeltelik borg, en die geleentheid kry om jou besigheid voor te stel aan almal wat bywoon.Kontak ons om deel te raak van die volgende geleentheid. Die res van die jaar se etes word gehou op:

 

• 30 Augustus 2019

• 27 September 2019

• 25 Oktober 2019

• 29 November 2019

Profiel van 'n Afrikaanse Sakeleier

Nicolaas Cornelius Tromp is op 13 April 1949 in Windhoek gebore. Nadat hy gematrikuleer het aan Windhoek Hoërskool, waar hy ook die hoofseun was 1967, behaal hy die graad BCom aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat. Hy trou in 1971 met Denése de Villiers en 2 seuns en 2 dogters is uit die huwelik gebore. Al vier die kinders lewer vandag ʼn selfstandige bydrae tot die uitbou van die Nictus groep in Namibië en Suid-Afrika. Hy is ook die trotse oupa van 13 kleinkinders.

 

Hy sluit in 1974 by die Nictus Groep aan waar hy in 1979 as Besturende Direkteur van Nictus Beperk aangestel word.Hy dien ook as voorsitter van verskeie direksies van die NICTUS-groep.

 

Nictus groep breihulle sake belange in 1980 uit na die Republiek van Suid-Afrika onder sy leiding as Besturende Direkteur. Hy dien ook as Voorsitter van Veritas Eksekuteurskamer (Edms) Bpk, as Direkteur van Nictus Holdings Beperk in Namibië en as trustee van verskeie trusts vir die afgelope 45 jaar. 

 

Hy is ’n stigterslid van die Namibiese Effektebeurs in 1992 en dien ook as voorsitter van die Uitvoerende Komitee van die Namibiese Effektebeurs vanaf 1994–1997. Vandag is die Namibiese Effektebeurs steeds die tweede grootste in Afrika. Hy dien ook op die bestuur en as Voorsitter van die Afrikaanse Sakekamer in Windhoek vir 15 jaar.

Op kerklike terrein dien hy as lid van die kerkraad van Windhoek-Eros vir 14 jaar. Hy dien ook as lid en ondervoorsitter op die Finansiële Kommissie van die NG Kerk Sinode in Namibië.

 

Sy passie vir Afrikaanse onderwys word gesien in sy termyn as Voorsitter van die skoolkomitee van Windhoek Hoërskool. Hy is die trotse ontvanger van die Orde van die Vriend van Windhoek Hoërskool.

 

Op kulturele terrein was Nico die eerste Presidentsverkenner van Die Voortrekkers in Namibië. Hy dien as konsultant en finansiële adviseur van Die Voortrekkers in Namibië en ontvang die Orde van Vriend van Die Voortrekkers.

 

Met behulp van sy strategiese leiding en finansiële kundigheid het Voortrekker-bates soos Trekkersbron vir Afrikanerkinders behoue gebly. In September 2013 is hy eenparig deur die Hoofbestuur van Die Voortrekkers in Suid-Afrika aangewys as Hoofbeskermheer van Die Voortrekkerbeweging in Suid-Afrika en Namibië.

 

Onafhanklikheidswording het vir die Afrikaners in Namibië geweldige implikasies gehad. Gevestigde Afrikaanse kultuurorganisasies het oornag uit Namibië onttrek. Soos wat die Suid-Afrikaanse weermag uit Namibië onttrek het, het die getalle van Afrikaners in die land dramaties gekrimp. 

 

Afrikaner-erfenisterreine het verlate en leeg gestaan en oor tyd verwaarloos. Afrikaanse en ander regeringskole was verplig om uitsluitlik Engels as onderrigtaal te begin gebruik. 

’n Klein groepie Afrikaners het egter besef dat Afrikanerkultuur en ekonomiese tradisies nie oor die langtermyn bewaar en uitgebou sou word in Namibië nie. Onder die voorsitterskap van Nico Tromp (2006–2011) en die betrokkenheid van Afrikanerleiers soos Dr Callie Opperman, Polla Steyn, Ernst Stals en Jurie Viljoen, is die organisasie Netwerk vir Afrikanerbelange gestig. Netwerk het uitgereik na die enkele oorblywende Afrikanerorganisasies en begin om die werksaamhede te koördineer. Daarby het Netwerk Afrikaner eiendomme en finansiële bates in Namibië gekonsolideer in samewerking met die Selfhelp Trust, sodat die bates aangewend kan word vir die bevordering

 

van Afrikanerkultuur. 

Die Selfhelp Trust, waarvan Nico ook die voorsitter is, het in die middestad van Windhoek ’n bymekaarkomplek vir Afrikaners opgerig en dit, Ons Erfdeel,genoem. Op die terrein is die Bittereinder-monument, een van die min Afrikanermonumente in Namibië. Ons Erfdeel huisves vandag ’n Afrikaner argief, biblioteek en is ’n bymekaarkomplek vir Afrikaner kultuurorganisasies. Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat ook gevestig is by Ons Erfdeel waar studente in Afrikaans in Namibië tot op tersiêre vlak opleiding kan ontvang.

 

Die boodskap is duidelik: Ons as Namibiese Afrikaners is steeds hier, ons is steeds georganiseerd en ons lewer nog steeds ’n bydrae tot Namibië en sy mense. Die Selfhelp, Die Selfhelp Trust het ondersteuning gebied aan Afrikaners wat op eie inisiatief twaalf privaat Christelik-Afrikaanse skole regoor die land gestig het. Uit eie kapitaal het Afrikaners die skole gefinansier, onderwysers betaal en geboue opgerig wat in geldwaarde gesamentlik almeer as ’n biljoen Namibiese Dollar werd is.Vandag is daar duisende Afrikaanse kinders wat kwaliteit onderwys op Christelike grondslag in hulle moedertaal ontvang, iets wat baie Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika steeds as vanselfsprekend aanvaar.Netwerk het ook leiding geneem om betrokkbetrokke te raak by Rapport Onderwysfonds se beurskomitee.

 

Op dié manier verseker hulle dat voornemende Afrikaanse studente beurse kry om die kennis wat hulle verkry te kom terug ploeg in Namibië.

’n Kultuurgemeenskap,soos Afrikaners, is nie gebonde aan landsgrense nie en saammet Dr Callie Opperman, het Nico ’n leidinggewende rol gespeel in die totstandkoming van ’n kulturele vennootskap tussen Netwerk en die Federasie vir  Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) in Julie 2013. Dit is die eerste internasionale v e n n o o t s k a p tussen twee gelykwaardige Afrikanerorganisasies van die aard.” Vir die eerste keer sedert 1929, het die FAK ʼn Namibiër, Dr Callie Opperman op hulle direksie aangestel en vereer hulle met hul Toekenning vir Uitnemende Leierskap, Nico Tromp in 2013. Hy het hierdie gesogte toekenning ontvang vir sy saakmakende en rigtinggewende leierskap, harde werk, deursettingsvermoë en selfopoffering om vir die Afrikaners in Namibië ’n kulturele- en saketoekoms te skep.Sy boodskap aan jong Afrikaners in Namibië wat nou die sakewêreld wil betree, is baie opwindend.Namibië is ʼn paradys vir entrepreneurs wat bereid is om baie hard te werk en wie se lewensfilosofie gebou word op Bybelse beginsels. ʼn Liefde en ʼn passie om eie identiteite met uitnemendheid te bewaar en uit te bou.Sukses is gebaseer op passievolle leierskap wat ʼn passie het vir dit wat jy in glo, ʼn gefundeerde waardestelsel, ʼn liefde vir eie identiteit en die stel van ander se belange bo jou eie, is absoluut van kardinale belang om in en buite die Republiek van Namibië ʼn sukses te maak. Jou leuse moet wees om nie te koop wat jy nodig het nie, maar koop slegs dit waarsonder jy nie kan klaar kom nie.

 

Daar is geen rede hoekom jong entrepreneurstalent in Namibië nie suksesvol kan wees nie.Jong Afrikaners moet egter kennis neem dat tyd ʼn baie belangrike rol speel in die opbou van ʼn onderneming.Voortdurende transformasie, oneindige geduld en passievolle deursettingsvermoë bly die basiese bestanddele van sukses en goeie leierskap.