BAK2c

BLOEMFONTEINSE AFRIKANERKULTUURRAAD

REGLEMENT

Soos op die Stigtingsvergadering gehou op 28 November 2012 gefinaliseer en daarna op 16 Januarie 2012 deur die Bestuur redaksioneel versorg

DOEL VAN DIE KULTUURRAAD

Die Kultuurraad stel homself ten doel om:

  • Die Afrikanerkultuur en Afrikaans te bevorder
  • As forum te dien waar lidorganisasies aktiwiteite kan koördineer en mekaar wedersyds kan ondersteun
  • Om leemtes in die kultuurakker te identifiseer en waar moontlik oplossings te bied.
  • Jaarliks 'n kultuuralmanak uit te gee
  • Die bewaring van die Afrikanererfenis te bevorder. 

LIDMAATSKAP

De volgende organisasies en individue word genooi om aansoek om lidmaatskap te doen:

  • Almal wat die Afrikanerkultuur en Afrikaans wil bevorder
  • Alle Afrikaanse skole
  • Alle Afrikaanse kerke wat die Reformatoriese Belydenisskrifte onderskryf
  • Alle Afrikaner en Afrikaanse kultuurorganisasies
  • Alle sport- en musiekgroepe wat die Afrikaanse en Afrikanerkultuur uitleef
  • Die Afrikaanse media

Die Jaarvergadering ken lidmaatskap toe op aanbeveling van die Bestuur.  Aansoeke word vergesel van die betrokke organisasie se grondwet of die individu se doelstellings.

Verskillende takke of groepe (bv. laers, kommando’s, gemeentes) ens van dieselfde “oorhoofse” organisasie kan afsonderlik aansluit.  Die plaaslike “oorhoofse” organisasie kan ook afsonderlik aansluit (bv. ring, streeksorganisasie ens).

LEDEGELDE EN DONASIES

Ledegelde bedra R 200 per jaar per organisasie en R 100 per individu (egpare sluit as 2 individue aan).

Lede en Lidorganisasies word aangemoedig om by wyse van 'n maandelikse debietorder of andersins skenkings ter styf van die Raad se fondse te maak.

STEMREG

Elke lidorganisasie of individuele lid het een stem.  Indien ‘n bepaalde organisasie meer as tien persent van die stemgeregtigdes uitmaak, word die stemreg van die betrokke organisasie beperk tot tien persent van die aanwesige stemgeregtigdes.

WERKSWYSE

Die Raad en sy Bestuur bevorder die doelstellings van die Raad.

Die Bestuur vergader kwartaalliks en belê ‘n algemene vergadering wanneer nodig met twee weke kennis aan lede en beskikbaarstelling van die sakelys.

Tydens die Jaarvergadering wat in die eerste twee weke van November plaasvind, word 'n bestuur vir die volgende kalenderjaar gekies.

VERGADERINGS

Die Bestuur stel die sakelys van vergaderings en die jaarvergadering saam.

JAARVERGADERING

Die Jaarvergadering hanteer die volgende sake:

Kultuuralmanak;
Finansies; 
Vasstel van ledegeld; 
Grondwetwysigings (tweederde meerheid); 
Verkiesing van Bestuur (volstrekte meerderheid); en 
Ontbinding (tweederde meerderheid).

DIE BESTUUR

Die Bestuur: bestaan uit 'n voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris, penningmeester en 'n addisionele lid. vergader ten minste kwartaalliks; belê ‘n vergadering van die Raad wanneer nodig; stel die sakelys van vergaderings en die jaarvergadering saam; en handel om die doelstellings van die Kultuurraad te bevorder.

FINANSIES

Die finansiële jaar strek van 1 Januarie tot 31 Desember. Die Bestuur open en bedryf ‘n geskikte bankrekening.  ‘n Voorlopige finansiële staat (1 Januarie tot 31 Oktober) vir die huidige jaar dien voor die jaarvergadering.

Aansoekvorm vir Lidmaatskap.